Sluit gratis aan
Kieslys

Gidse

Eerste Date Idees: Plekke in Kaapstad, Pretoria en Joburg

Sluit gratis aan by jou afdeling:

Die kortste pad na ’n tweede date

Kies vir ’n eerste date ’n besige, openbare plek, in die dag of vroegaand, en doen iets saam wat die gesprek aan die gang hou. Maak dit maklik om ná ’n uur te groet. Koffie en koeksisters by die Boeremark in Pretoria, ’n stap op die Seepunt-promenade in Kaapstad of ’n piekniek in die Walter Sisulu-tuin werk almal.

Hieronder is bekende plekke in agt streke wat al jare daar is. Kies een wat vir julle albei maklik bereikbaar is. Ons plekkeblad wys hoe dating in jou omgewing werk, en ons gidse het nog raad vir aanlyn dating.

Eerste date idees in Kaapstad, van Blouberg tot Tygerberg

Woon een van julle in Durbanville en die ander in die Stad? Daar is goeie plekke aan albei kante van die sogenaamde boerewors-gordyn. Meer oor dating hier staan op ons Kaapstad-blad.

Goedkoop en ontspanne

’n Stap op die Seepunt-promenade kos niks, en daar is altyd mense rond. In die Kompanjiestuin in die middestad loop julle tussen die beddings deur en gesels op ’n bankie. Aan die noordekant wag Bloubergstrand se bekende uitsig oor Tafelbaai na Tafelberg, op sy mooiste teen sononder.

Oulik en romanties

Die Durbanville-roostuin het sowat 4 500 rose wat van Oktober tot Mei op hul beste is, en in die seisoen is daar Sondae tee. In die somer sit julle op die gras by een van Kirstenbosch se sononderkonserte, gewoonlik op Sondae van laat November tot laat Maart.

Pret, met iets om te doen

By Century City vaar ’n boot 40 minute lank op die kanale om Intaka-eiland, ’n vleilandreservaat met ’n roete van 2 km. Of proe wyn in die Durbanville-wynvallei, waar sowat ’n dosyn landgoedere, soos Diemersdal, Meerendal, Durbanville Hills en Nitida, aan die stad se rand lê.

Buite in die natuur

Die Tygerberg-natuurreservaat in Welgemoed het sowat 13 km roetes en ’n uitsig rondom op Tafelberg, Robbeneiland en Valsbaai. Of kyk van Seinheuwel af hoe die son in die see sak.

Eerste date idees in Pretoria: Boeremark, jakarandas en uitsigte

Is julle oggendmense? Die Pretoria Boeremark by die Pionier-museum in Silverton begin elke Saterdag douvoordag, so kom vroeg vir koffie en koeksisters. Laatmiddag kyk julle van die tuine by die Uniegebou oor die stad uit. In Oktober en November blom die jakarandas: Klapperkop is die bekende uitkykpunt, en in Herbert Bakerstraat in Groenkloof staan seldsame wit jakarandas. Soek julle aksie, het Kolonnade in Montana Park bowling, go-karts en ’n fliek. Meer op ons Pretoria-blad.

Eerste date idees in Johannesburg, met ’n waterval en arende

Die Walter Sisulu Nasionale Botaniese Tuin is ’n klassieke piekniekplek: die Witpoortjie-waterval val sowat 70 meter, en ’n broeipaar witkruisarende woon op die kranse. Kloofendal-natuurreservaat in Roodepoort, waar die eerste betaalbare goud aan die Rand in 1884 gekry is, het staproetes en piekniekplekke by ’n klipamfiteater. Florida-meer het piekniek-lapas en putt-putt, en aan die Randburg-kant lê die Emmarentia-dam en die Johannesburgse Botaniese Tuin. Meer op ons Johannesburg-blad.

Eerste date idees in Durban, met die see as agtergrond

Durban se strandpromenade loop van uShaka Marine World verby die Moses Mabhida-stadion en Suncoast tot by die Blue Lagoon. Dis die maklikste eerste date in die stad: stap, gesels en draai om wanneer julle wil, en selfs in Julie is dit strandweer. Die Durbanse Botaniese Tuin, in 1849 begin, is Afrika se oudste botaniese tuin wat nog bestaan, en vir ete daarna is Florida Road in Morningside ’n bekende strook. Meer op ons Durban-blad.

Date idees op die Oos-Rand en in Kempton Park

Benoni, die Stad van Mere, het Homestead-meer langs Lakeside Mall, en Boksburg en Germiston het elkeen ’n meer met ’n park daarom. In Kempton Park is Emperors Palace, langs OR Tambo, ’n vermaakkompleks vir ’n aand uit, en rugbymense kan die Valke op Barnard-stadion gaan aanmoedig. Wil julle stap, is die Cheetah Trail van 4 km in die Suikerbosrand-natuurreservaat naby Heidelberg kort genoeg vir ’n eerste keer. Meer op ons Oos-Rand-blad.

Date idees in Somerset-Wes en die Helderberg

Stap op die Strand se 5 km wit strand langs Valsbaai, of gaan kyk na die hawe in Gordonsbaai, met die anker en die “GB” in geverfde klippe teen die berg. Die Lourensford-oesmark is gewoonlik op Sondae, en in Vergelegen se tuine staan kanferbome wat tussen 1700 en 1706 geplant is. In die winter en lente ry julle met Clarence Drive langs die kus en hou die see dop vir walvisse. Meer op ons Helderberg-blad.

Date idees in Mosselbaai en op die Tuinroete

In Mosselbaai is die Dias-museumkompleks ’n oulike begin. By die Poskantoorboom, ’n melkhout waar seemanne al in die 1500’s briewe gelos het, kry ’n kaartjie wat julle in die stewelvormige posbus pos ’n spesiale stempel. Stap daarna ’n stuk van die St Blaize-roete by die vuurtoring, of gaan sit op Santosstrand. Op Sedgefield is die Wild Oats-boeremark elke Saterdagoggend langs die Swartvlei-strandmeer, en by Wilderness kyk julle van die Map of Africa-uitkykpunt af. Meer op ons Tuinroete-blad.

Eerste date idees in Bloemfontein, van Naval Hill tot Loch Logan

Op Naval Hill wei kameelperde, zebras en elande in die Franklin-wildreservaat, reg in die middel van die stad, en teen sononder kyk julle oor die hele Bloem uit. Vir ’n wandeling en ’n ete is daar die Loch Logan Waterfront by die meer, en die Oliewenhuis-kunsmuseum, kuns in ’n herehuis met tuine, is rustig genoeg vir ’n eerste gesprek. In die Julie-skoolvakansie bring die Vryfees ’n Afrikaanse kunstefees na die UV-kampus. Meer op ons Bloemfontein-blad.

Eerste date tips: jou lysie vir ’n ontspanne afspraak

  1. Ontmoet waar daar mense is. ’n Mark of ’n besige promenade, nie iemand se huis of ’n stil roete nie.
  2. Reël jou eie vervoer, heen en terug. Ry self of bespreek jou eie rit, sodat jou aand nie van iemand anders se motor afhang nie.
  3. Laat ’n vriend weet. Stuur vooraf wie, waar en hoe laat, en ’n kort boodskap sodra jy weer tuis is.
  4. Hou geld uit die gesprek. Salarisse, skuld en lenings is nie eerste-date-onderwerpe nie. Vra iemand jou vir geld, al is dit “net tot Vrydag”, is dit ’n rooi vlag.
  5. Hou dit kort. ’n Uur of twee is genoeg. Gaan dit goed, groet terwyl julle albei nog wil gesels.

Meer raad, ook oor ’n video-oproep voor julle ontmoet, staan op ons veiligheidsblad.

Waaroor gesels julle? Begin by wat julle reeds weet

Julle het al aanlyn gesels, so tel daar op: vra oor iets wat hulle geskryf het en wat jy graag wou weet. Naweke, kos, waar julle grootgeword het en die volgende vakansie is maklike onderwerpe; die eks, politiek en geldsake kan wag. Luister ten minste soveel as wat jy praat. Sukkel jy nog met die eerste boodskap, kyk na ons Afrikaanse pick-up lines.

Wanneer vra jy vir ’n tweede date?

As julle dit albei geniet het, sê dit dieselfde aand of die volgende oggend. “Ek het dit baie geniet. Kom ons doen dit weer?” is genoeg, en jy hoef nie drie dae te wag om cool te lyk nie. Stel iets konkreets voor, op ’n ander plek en ’n ander tyd van die dag. Voel een van julle nie dieselfde nie, sê dit vriendelik en eerlik; dis gaafer as om net stil te raak.

Eerste date vrae, met eerlike antwoorde

Waar moet ’n eerste date wees?

Op ’n besige, openbare plek waar julle iets saam kan doen, soos ’n mark, ’n botaniese tuin of ’n promenade, in die dag of vroegaand.

Wie betaal op die eerste date?

Daar is nie een regte antwoord nie: deel die rekening, betaal om die beurt, of laat wie nooi, betaal. Praat net vooraf daaroor, sodat niemand voel hy of sy skuld die ander iets nie.

Hoe lank moet ’n eerste date wees?

’n Uur of twee: kort genoeg dat niemand vasgekeer voel nie, en lank genoeg om te weet of julle mekaar weer wil sien.

Wat is ’n goedkoop eerste date in Kaapstad?

’n Wandeling op die Seepunt-promenade of deur die Kompanjiestuin, of sononder by Bloubergstrand. Die uitsig kos niks.

Vind iemand vir jou volgende Saterdagmark

Kies jou afdeling, sluit gratis aan en begin gesels. Die plek kies julle later saam.